Vakansie Akkommodasie

Sal jy daarvan hou om ’n vakansie in ’n ou strandhuisie deur te bring en te ervaar hoe dit gevoel het om  rondom die draai van die 20e eeu in n plek soos Stilbaai te kuier?

Dan moet jy een van die Jagersbosch strandhuisies huur. Die twee strandhuisies, Urheim en Friedensheim,  se interieurs is outyds soos jou oupa en ouma dit geken het. Sit op die verandah en kyk na die see.  In die lente is daar baie veldblomme rondom die huisies te sien. Die beste plek vir ’n ontspanne, lui vakansie.

Koste: R500 per nag (nie meer as 5 persone nie) in Urheim en R350 per nag (nie meer as 2 persone nie) in Friedensheim. Selfsorg akkomodasie. Daar is restourante, kafees en winkels binne loopafstand.

Kontak: Jagersbosch 028 754 1934

Geskiedenis: Hierdie twee strandhuisies het aan afstammelinge van Daniel Heese, ’n Lutherse Kerk sendeling en onderwyser, behoort.  Hy het in Riversdal gewoon. Daniel en sy vrou, Pauline, het baie daarvan gehou om saam met hulle gesin in Stilbaai vakansie te hou.

Die famlie het  met ’n ossewa gery en die reis van 40 km het twee dae geneem. Die kinders het gewoonlik op die grond geslaap. Hulle was gek  na swem, visvang en roei op die rivier. Die moeders en tantes het geborduur en gebrei. Die mans het gehou van visvang, lees,  stap en stoepsit om te kan gesels. Saans het hulle kaart- en bordspeletjies gespeel.

Beide strandhuisies  is naby die see direk op die sand van planke en sinkplate gebou. Die meubels was gewoonlik tweedehands. Houtkiste waarin meubels van Duitsland vervoer is, is gebruik om hangkaste te maak. Hulle het stoele en boekrakke van leë parafienkiste gemaak. Strooi is vir die matrasse gebruik.

Daar was geen badkamers nie .  Die meeste het ’n waskom gebruik of rivier toe  met ’n koekie seep in die hand, geloop om te gaan was. Watertenks het vars drinkwater verskaf en sommige mense het waterputte gehad.

Teen 1920 het ’n paar familielede strandhuisies gehad. Urheim het aan Lily (nee Heese) Klonus  en Friendensheim aan Julia en Frieda Heese behoort. Vandag nog het van Daniel Heese se afstammelinge strandhuise in die historiese hawegebied. Die huisies is in 2008 na die plaaswerf van Jagersbosch geskuif.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>